As jy ‘n padda in kokende water sit, sal hy uitspring want hy kan voel die hitte is ‘n bedreiging. As jy ‘n padda egter in koue water sit en die water stadig tot kookpunt bring, sal hy blykbaar nie agterkom nie en sal hy later só lewendig gekook word! Ek sidder om te dink aan wie so wreed sou wees om dit te doen…

Sauna staaaaail

Nietemin het ek dié naweek tot die besef gekom dat ek onlangs my eie lewendig-gekook situasie beleef het.

Ek’t reeds vir ‘n geruime tyd geweet daar sou eendag ‘n einde wees aan my tyd by MK. Toe daardie dag egter onlangs aangebreek het, het ek stilweg afskeid geneem en byna onbewus deur die (e?)motions gegaan. Ek het pragmaties geantwoord as mense my gevra het oor dié groot skuif en ek het nie toevlug gesoek in my ou vriende emosie en sentimentaliteit nie.

Tot ek nou besef het dis rêrig verby.

So ‘n besef is oorweldigend. Die skok as jy skielik agterkom jy’t heel manies jou eie stert gejaag in die onderbewuste se soeke na ‘n bietjie ontvlugting. Hoe gepas dat die tsunami van soetsappige sentimentele herinneringe ontketen is deur die herontdekking van een van my ou gunstelinge – met ‘n ewe sentimentele naam.

Foto Na Dans – Die Vloed

‘n Album deur ‘n band wie se paadjie, nes myne, afgedraai het en ‘n ander rigting ingeslaan het.

Ek was nog op skool toe ek in die JIP van Trompie Is Dood gelees het. Hulle het Rockspaaider gewen en was so oud soos ek. Op Stellenbosch het ons paaie gekruis, in Bohemia, deur gemeenskaplike vriende en vriendinne en by MFM toe hulle Foto Na Dans geword het. Die jaar wat Foto Na Dans hul merk op MK gemaak het, was die jaar wat ek Studio1 begin aanbied het. Hulle het by my eerste MK Awards opgetree en die MK Award vir beste groep gewen. Nadat ek Johannesburg toe verhuis het, het hulle het op een Gauteng-toer nog my GPS kom leen!

So het ons paaie aanhou kruis en ek’s seker hulle het, nes ek, meer oor hulself, die bedryf en musiek geleer as wat enige van ons ooit sou droom.

‘Die Vloed’ is een van my gunsteling albums ooit, maar terselfdetyd ook ‘n album wat my bitter nostalgies maak vir dit wat verby is.

MK AWARDS 2008 – hoe blonder hoe beter!

Noem dit n quarter-life crisis, maar ons staan nou met 1 voet in die grootmenswêreld. In realiteit. Prakties en vooruitskouend besig om vir onsself ‘n plekkie in die son oop te skrop.

Die ander voet nog weerbarstig in ‘n wêreld waar jong gesigte met hande in die lug, lirieke aan bands terugskree asof om vas te klou aan die tak van immergroen idealisme. Aan die idee dat daar vir ons meer voorle as om eenvoudig ons ouers te word. ‘n Gestoei en ‘n gespartel in die stormagtige rivier van realiteit wat jou onwillekeurig meesleur.

Nes ‘n band opbreek en die fan, die luisteraar, veral die verlies voel – asof jy jou eie vriend aan ‘n ander land moes afstaan. Só voel ek nou ‘n verskriklike verlies aan die kameraadskap, die gedeelde toewyding en die geweldige eer wat dit was om saam met die MK produksiespan, my mede-aanbieders (eers Henré, toe Simon, Herman en later Jean) en heel belangrikste, die kyker ons musikale heroes en tydgenote van nader by te kon leer ken.

Studio1 gaan nou aan sonder my.
Die musiekbedryf gaan voort sonder Foto Na Dans.

Maar ons spore, nes dié van elke ander persoon wat al tot die musiek bygedra het, sal altyd by MK lê – al is dit in die argiewe. Ek vind my vrede in die wete dat die musiek saakmaak.

My tyd by MK – en die eerste helfte van my twintigs – is werklik verby, maar ek sal altyd die foto’s hê.

“Maak my sterk
Ek het nog ‘n lang pad om te draf”

Foto Na Dans, ‘Maak My Sterk’