Nadat ons vanoggend ons eerste episode van DAGBREEK gepleeg het, is my adrenalien-kwota vir die dag geheel en al opgebruik. Live TV doen dinge aan ‘n mens.

Dalk is dit hoe jy na die naweek voel?

Ook maar goed dat Bittereinder toe gou hierdie lekker nommer, die titelsnit van hulle nuwe album DieDinkDansMasjien, as ‘n mahala download vrygestel het vir my (en jou) luistergenot!

Ek skryf hier veral om diegene wat nog nooit met hulle musiek kennis gemaak het nie, se lewe te verander. Jy mis uit.

En as ek nou preek vir die ouderlinge, kom ons waardeer net gou vir ‘n oomblik saam die musiek. En die liriek. Dis after allMaandag. Toe, jy verdien ‘n stukkie pouse van die meedoënlose werklikheid van ‘n nuwe week.

“Vir die sieners in die suburbs en die sinieses wat ons haat”

Ek luister die nuwe liedjie op die oomblik graag oor en oor want ek hoor elke keer ‘n nuwe rympie wat by my vassteek… Amper nes ek aan die begin vasgehaak het by Die Waarskuwing, op hulle eerste album.

‘n Liedjie waarvan die lirieke op sigself reeds ‘n meesterstuk is.

In my opinie.

5. DIE WAARSKUWING

na die tyd was daar mense wat gesê het dat hulle dit verwag het
hulle was nog kwaad en bitter oor al die mense wat vir hulle gelag het…
 
maar selfs ‘n doemprofeet kon hierdie skade nie voorspel nie
die hele aarde aan die brand soos ‘n voorsmaak van hel, die
vuur was onblusbaar, kontinente uitgewis
en mens moes mettertyd mooi soek vir tekens van die oorlewendes
asemhaal was onmoontlik tussen die vlamme van vertering
elke woud was vernietig, elke stad verwoes vir ewig
hele spesies het verdwyn in die eerste paar minute
die greep van die vuur het orals uitgesprei soos ‘n siekte
in die verte was ‘n berg met sy skouers in die wolke
en mensdom se oorblyfsels mik toe daarvoor in die donker
tussen die hittegolwe en die vlaktes van verwoesting
drom hulle toe saam soos miertjies uit elke rigting
en vind verligting teen die kranse en die skadu’s van die laaste berg
en vir die eerste keer besef hulle wat oorlewing hulle gaan verg
en hulle klim toe al hoe hoër om skoner suurstof te vind
uiteindelik op die bergpiek gewaar hulle ‘n vreemde Adamskind
wat alleen in die wind staan en oor die brandende aarde gluur
hy dra ‘n lang donker jas en in sy oë weerkaats die vuur
“hy’s een van daai vreemdes!” roep ‘n stem uit die skare
en met agterdogtige gedagtes begin hulle om hom vergader
“wat weet jy van die vuur?” begin hulle soos een stem fluister
“wat maak jou soort hier? ons dink dis tyd dat jy vir ons luister…
jy was nog nooit regtig welkom nie, jy en jou vreemdelingmense
ons vermoed nog altyd julle’t vir ons net die donkerste wense”
en waarlik, net soos die lus vir wraak ondraagbaar raak
sien hulle die bewys wat van alles net ‘n warrelwind maak:
in sy regterhand hou die vreemdeling ‘n vuurhoutjie wat nog rook!
en in ‘n woedende massa skreeu hulle saam soos ‘n doodskoor:
 
ons het probeer om jou te waarsku
 
die sirkel word al stywer soos die massa saamdrom
en hulle dors vir bloed raak net dieper hoe nader hulle aan hom kom
maar skielik maak die vreemde man sy mond oop en begin praat
en soos die oog van ‘n storm is dit asof alles net stil raak
en die woorde van sy storie weergalm die verte in
en die kalmte in sy stem vertel van lig en oorbegin
hy vertel hoe hy en sy mense nog altyd geweet het van die vuur
en hoe hulle vir jare probeer het om ons te help en om ons te waarsku
hy vertel van klein dorpies waar hulle hom in die modder gesleep het
en in die kroeë van die stede waar hulle hom met bierbottels gebreek het
en hoe niemand wou luister nie, en hy in die nagte net kon huil
en hoe hy vir een meisie in ‘n eetplek gesê het hy sou plekke met haar ruil
en sy’t hom aangeval voor almal en met haar vurk hom oopgesteek
en in haar oë het hy skielik verstaan hy sou ‘n ander plan moes kweek
hy en sy mense het toe vergader en na hierdie selfde berg kom kyk
dit het vir hulle begin om soos die enigste oplossing te lyk
en ons almal wat nou hier staan is die vrugte van daai plan
hulle’t ‘n kring van vuur begin met die vuurhoutjie in sy hand
en op die manier die vuur geblus in ‘n sirkel wat kon terugveg
‘n kring van vuur wat soos ‘n muur staan met sy arms om die berg
en net soos ons besef wat die vreemdes vir ons gegee het
sien ons skaduwees in die wolke waarmee die berg hom beklee het
en die vreemdeling begin self om in die lug op te dryf
en soos hy styg hoor ons stemme wat ons troos en ook dreig
en hulle sing nou ‘n lied wat ons herken in ‘n oomblik
en ons harte begin skud soos die woorde ons oopruk
 
ons het probeer om jou te waarsku
…En hier’s die weergawe met die (meesterlike) musikale begeleiding:

Die Waarskuwing

Bittereinder, ek’s ‘n aanhanger.
Tot die bitter einde.